Uit die mond van die suigeling – Muskiet

Die Desembervakansie in Suid-Afrika is sinoniem met see, feesvieringe en minder aangenaam- muskiete! Daar is altyd daardie een persoon in ‘n gesin of vriendegroep wat deurloop onder die muskiete, terwyl muskiete vir ander mense ‘n blote mite is.

Dit is eerstens belangrik om te weet dat slegs vroulike muskiete bloed drink, terwyl manlike muskiete vegetariërs is. Vroulike muskiete benodig bloed, wat hoog in proteïene is, om hul eiers te vervaardig. Dit is eintlik ook foutief om te sê dat muskiete “byt” aangesien hul jou tegnies steek.

Die vraag is, hoekom teiken muskiete slegs sekere persone? Dit is grootliks as gevolg van die melksuur wat jou liggaam afskei wanneer jy sweet. Boonop is jou lyf warm wanneer jy sweet- nog ‘n magneet vir muskiete wanneer hul ‘n gasheer nader.

Jou velmikrobiota is ook ‘n faktor wat muskiete lok. Dit veroorsaak dat elke persoon verskillende reuke vrystel. Navorsing het bewys dat persone met ʼn groter hoeveelheid maar kleiner verskeidenheid velbakterieë meer geneig is om aanloklik te wees vir muskiete.

Hier is nóg ‘n paar faktore wat jou meer vatbaar maak vir ‘n muskietaanval:

– Interessant genoeg staan mense wie gereeld bier geniet ‘n groter kans om ‘n muskiet se volgende teiken te word.

– Indien jy in die O-bloedgroep val, is jou kanse groter om muskietkos te word. Volgens navorsing skei mense met O-bloed sekere reuke af wat muskiete aantrek.

– Swanger dames staan ‘n groter kans om deur ‘n muskiet gesteek te word, omdat hul meer koolstofdioksied uitasem. Muskiete besit spesiale senuweereseptore wat hul help om koolstofdioksied in die omgewing te bespeur. Daar is boonop bevind dat ‘n swanger vrou sekere reuke afskei wat muskiete aantrek.

Indien jy iemand is wat gereeld onder die muskiete deurloop, onthou om jou Is Moz Bos- bosseep en ander produkte in jou sak te gooi wanneer jy met vakansie gaan!

IsMozBos