Waar het alles begin?

Iewers in die Botswana Bosveld is die idee van Is Moz Bos gebore toe ‘n bosnooi gesmag het na ‘n muskietweerder wat ook aangenaam ruik. Net daar en dan het sy besluit om die geleentheid vir entrepreneurskap aan te gryp en bosseep te vervaardig.

Dit het haar vyf jaar geneem om die formule vir die bosseep saam te stel, maar met uithouvermoë en ‘n groot passie vir wat sy doen, het dit vrugte afgewerp. Rina Lombard, die formidabele vrou agter hierdie handelsmerk, het in 2016 met haar bosseep in haar sak en ‘n kop vol drome haar produk aan ‘n enkele apteek in Hartebeespoortdam begin verskaf. Vandag word Is Moz Bos onder andere by Van Heerden Apteke, De Afrikander Handelshuis by die Voortrekkermonument, Outdoorphoto, en die Kruger Wildtuin Skukuza winkel verkoop. Die produkreeks het intussen uitgebrei om t-hemde, kombuistoebehore en met die onlangse Covid-19 pandemie, selfs gesigmaskers en handreiniger in te sluit. Kort voor lank het Is Mos Bos se produkte ‘n noodsaaklikheid geword vir wanneer daar met vakansie gegaan word waar daar baie muskiete en sandvlooie is. Geen muskiet staan ‘n kans teen Is Moz Bos se produkte met sitronella en wildesalie as geheime bestandele nie!

Elke bospakkie word sorgvuldig verpak. Al die bestandele en selfs die verpakking van Is Moz Bos produkte word plaaslik aangekoop en vervaardig. Dit is dus glad nie verbasend dat Is Moz Bos intussen twee tinteltongtoekennings losgeslaan het vir die Afrikaans-vriendelikste produk en die foto wat Afrikaans praat onderskeidelik nie. Is Moz Bos het boonop ‘n tweede plek behaal by die Entrepreneur van die jaar kompetisie in 2018. Rina was ook onlangs op die Kyknet program, Winslyn, om oor Is Moz Bos se sukses te gesels.

IsMozBos